Du Preez Stoltz se album Nuutgemaak is ‘n bekroningswaardige album, gepoets met hart, siel, suiwer talent en geslypte vernuf.
Die tenoor Du Preez Stoltz, wat aanvanklik teologie studeer het, het egter ‘n graad in sosiale wetenskappe in 1999 aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Tydens sy studentejare was hy ‘n lid van die vokale mans-ensemble Bult Se Boys, die gemengde vokale ensemble Brilliant Cut (wat ‘n sangkompetisie in Praag gewen het) en ‘n lid, verwerker en regisseur van die universiteit se revuegroep Cantare. Du Preez het al hoofrolle in die blyspele Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, Les Miserables en Student Prince vertolk en hom as stemafrigter aan die Phillip Kotze-sangskool onderskei.
Hy het bekendheid verwerf saam met Philip Kotze en Chris Coetser as die gewilde trio Ons Eie Tenore. Maar hy wou altyd geestelike musiek vertolk. As ʼn solo-kunstenaar het hy daardie droom bewaarheid en die albums Hy Leef in My en Dans in Sy Lig het gevolg.
Op sy derde album, Nuutgemaak, bring Du Preez bring aan sy Godgegewe gawe: ‘n pragtige, suiwer stem. Met sestien snitte - tydlose gunstelinge, Afrikaanse aanpassings van internasionale gospelliedere en ‘n aantal nuutskeppinge - neem hy die luisteraar op ‘n geestelike lof- en aanbiddingsreis.
Tussen die aangrypendste werk is die splinternuwe verwerkings van sy treffers Dankie! Dankie! Dankie! en Ek sal bid vir jou. Eweneens aangrypend is Du Preez se vokale kragtoer op Soli Deo Gloria (solo én as ‘n bonussnit ondersteun deur die Oranje-meisiekoor) en die tydlose Halleluja, gekomplementeer deur die Bloemfonteinse Kinderkoor. Nóg ‘n hoogtepunt is die snit Weet jy dat Jesus jou lief het? – saam met sy gesin, sy vrou Jana, en hul kroos, Inge en Hayley.
Du Preez verwoord die denke van gelowiges besielend, opheffend en eerbiedig in die liedere Vergewe, Dit is die dag, Wees stil, want die Heilige is hier, Al die lof en aanbidding, Aan U alleen, In die begin, Daarom, Man op die heuwel, Smeekgebed en In die hemel is die Heer.
Die liedere is getuienis van Du Preez se geloof; gister is werklik verby. Benut die oomblik en omhels die toekoms, gevul met heerlike belofte.
Die album ontgin die wens dat ons vrede kan vind; in onsself, met ons naaste – veilig in God se liefde gekoester; waarlik nuutgemaak.
Waardeer seënryke, dankbare geestelike bewuswording!